PDA

Bekijk Volledige Versie : Woordzoeker



Orakel
04-09-04, 19:15
Holy War, Inc. . Deur Peter L. Bergen
Jan-Jan Joubert


Wie is Osama bin Laden en hoe ver strek sy tentakels? Waar woon hy en wie werk saam met hom? Hoeveel moet ons vrees vir sy wêreldwye netwerk, en wat kan ons volgende van hom verwag?

Wel, dis nou nie asof die CIA, die FBI of die Amerikaanse weermag matelose sukses behaal met hul kruistog om hom uit sy gate te rook nie, so miskien is dit nodig om 'n joernalis kans te gee om dit te doen.

Een van die min mense wat al ooit van aangesig tot aangesig 'n onderhoud met Bin Laden gevoer het, is Bergen, wat in 1997, nadat hy tallose pogings aangewend het, deur Bin Laden genooi is na 'n geheime bestemming in die berge van Afganistan. Bergen se skryfstyl is wat Amerikaners seker gung-ho sal noem: kennelik beskou hy hom as 'n redelike rakker dat Bin Laden hóm nou juis genader het. Sy styl is myns insiens oordadig, met die woordryke beelde van 'n joernalis sonder die normale ruimtebeperkings.

Maar ander mense wat die boek onder oë gehad het, meen dit is lewendig en dramaties: dat dit die vertelling interessant maak. Miskien is dit 'n bietjie soos die tipe debat wat mense oor Tom Wolfe se skryfstyl voer: sommige hou van die detail en vinnige toneelverplasings, ander sou meer diepte en karakterbou verkies.

Ewenwel, Bergen vertel 'n fenomenaal interessante verhaal wat Bin Laden en sy familie se geskiedenis naspeur en hulle plaas binne die (vir Afrikaanse lesers) volksvreemde wêreld van die Saoedi-koninkryk, waar olie 'n einde gebring het aan millennia se agterlike armoede, met gevolglike parvenu-rykdom vermeng met fundamentalisme en bevoorregting deur die koningshuis.

Bin Laden se wegbeweeg van sy familie, aangehelp deur 'n immer meer fanatiese beskouing van Islam en, belangriker, die vyande wat na sy mening dié geloof bedreig, word knap gedokumenteer. Waar sy familie Mammon gekies het, dien hy 'n ander Meester - en met oorgawe.

Dit is 'n skemerwêreld met sy eie reëls, en die verrassendste van Bergen se beskrywing is dat dit nie ooglopend probeer demoniseer nie. Dit vat die mistiek saam van plekke soos Jemen, die suide van Saoedi-Arabië, die Islam-onderwêreld van Londen en die ver uithoeke van die Afgaanse berge, vanwaar Bin Laden as marionetmeester sy troepe teen die bastions van materialisme rig.

Die voorste noodwendige kommer as mens hierdie stewige volume opneem, is sekerlik dat dit darem deksels moeilik sou wees om só 'n werk behoorlik te voltooi só kort ná 11 September.

Wees egter gerus, want Bergen het jare aan die boek gewerk weens 'n eie oordeel dat Bin Laden 'n alte gevaarlike knaap is. Dit was reeds lankal by die uitgewer toe die aanvalle op die VSA plaasgevind en die internasionale oorlog teen terrorisme ontketen is.

'n Mens wil raai die uitgewer het die hersieningsproses drasties versnel, maar die versorging is knap.

As jy belang stel in die oorlog teen terreur, en die magte waarteen die Yanks dié stryd voer, is hierdie boek vir jou. Dis 'n conspiracy theory wat waar geword het, 'n spanningsverhaal waarvan die afloop aan Armageddon herinner, en wat geldingskrag kry deur die vreeslike gebeure op 11 September in die Verenigde State.

[email protected]

Jan-Jan Joubert is lid van die politieke redaksie van Die Burger, Beeld se susterkoerant.

Siah
04-09-04, 21:05
cool,
het voorlezen van dit stuk is alleen al een intense bezigheid.

alleen is een Beetje lang